The Wayback Machine - https://web.archive.org/web/20140616084739/http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1995/06/28/14/3.html

Hoofartikelblad

Boerehaat

DIE Minister vir die Staatsdiens en Administrasie, dr. Zola Skweyiya, het pas laat blyk dat hy 'n vyand van Afrikaans is deur opdrag te gee dat alle korrespondensie aan hom in die Parlement slegs in Engels, Xhosa en Zoeloe moet wees. Dit op sigself is nie so verrassend nie, want daar is heelparty mense in die ANC-Kommunistiese alliansie wat die taal nie goedgesind is nie. Gelukkig is daar ook baie in senior posisies, soos mnre. Terror Lekota van die Vrystaat en Mathews Phosa van Oos-Transvaal, wat Afrikaans respekteer en op hul beurt groot agting by Afrikaanssprekendes afdwing. Iemand in dr. Skweyiya se sensitiewe posisie behoort hom egter allermins aan sulke growwe onverdraagsaamheid skuldig te maak. Met sy minagtende gebaar jeens die taal gee hy derduisende lojale staatsamptenare 'n liederlike klap in die gesig. Baie van hulle is mense sonder wie se samewerking dit nie moontlik sal wees om die staatsdiens doeltreffend te bestuur en te herstruktureer nie. Dit lyk of gewone Boerehaat in sy geval die oorhand oor gesonde oordeel gekry het. Boonop beledig hy nie net blanke Afrikaanstaliges nie, maar ook miljoene bruin en swart mense wie se moedertaal Afrikaans is. Daarby ondermyn hy die letter en gees van die Oorgangsgrondwet, wat bepaal dat geeneen van die vorige amptelike tale se status ingekort mag word nie. En waarom verwerp hy juis Afrikaans, wat in Afrika ontstaan en gegroei het, as hy Afrika tale wil bevorder, soos hy te kenne gee? Pres. Nelson Mandela, wat van sy kant klaarblyklik hard probeer om versoening te bevorder, behoort die sweep hieroor te klap. Suid- Afrika kan sulke verdelende optrede deur senior Regeringslede nie langer bekostig nie.

parlementslede taal